'n Ontdekkingsreis sonder weerga
Bulletin Sept 2004 edition
Hierdie roete is 'n sirkelroete rondom die grootste dam in Suid-Afrika. Die vaal karoo landskap omvou die opgedamde bruin water van die Oranjerivier en vorm 'n mensgemaakte meer wat aan die toeris 'n ongekende verskeidenheid van aktiwiteite bied.
Ons reis begin op die dorp Gariep Dam sodra jy van die N1 afgedraai het. Hier kan jy jou staan en verwonder aan die siviele ingenieursprestasie van die Gariep Damwal, vir ure na die uitgestrekte wateroppervlakte kyk. Dis hier waar die mensgemaakte meer eindig. 'n Besoek aan die hidro-elektriese kragstasie laat 'n mens sprakeloos oor die krag van water.
'n Rit deur die Gariep natuurreservaat laat jou die vreugde van die skepping ervaar. 'n Besoek aan die Toerisme Sentrum bring perspektief oor die geskiedenis van die streek.
Daarna draai jy jou motor se neus ooswaarts en kies koers op die R58 langs die Oos-Kaap oewer van die meer na Venterstad. Die uitgestrektheid van die meer met die harde karoo landskap word vinnig afgewissel met die ryke dierelewe van die Oviston Natuurreservaat. 'n Besoek aan Oviston se inlaattoring vir die Oranje-Vistonnel is die moeite werd. Die pragtige uitsig op die inlaattoring vanaf die lowergroen tuine van Lake View Gastehuis is prentjiemooi en teen die ondergaande son roep dit beelde van 'n vêr-vêr land op.
Die volgende oggend is 'n besoek op Venterstad aan die Gereformeerde Kerk, wat in 1877 gebou is, 'n kultuurhistoriese ervaring. Die uiteensetting van die geboortegrond van President Paul Kruger by die kerk, is insiggewend. 'n Besoek aan die kultuursentrum op die plaas Kareefontein, Kuyasa Handwerksentrum en Masibambane Sentrum rond die besoek op die dorp af.
Vandaar draai 'n mens noord-oos op die R405 en ry op die oewer van die meer na die Hennie Steyn brug wat die beginpunt van die meer is. Ruwe koppies, wuiwende grasvelde en klein klofies skep hier 'n skilderagtige prentjie. Die Hennie Steyn brug is die langste van sy soort in die suidelike halfrond en is ook die begin van die meer deurdat die water van die Oranjerivier hier begin opdam.
Bethulie se ryke geskiedenis sluit in die konsentrasiekamp wat dateer vanaf die Anglo Boereoorlog, oorblyfsels van die Britse troepemagte wat daar gesetel was en oorblyfsels uit die vroeë geskiedenis. Die dorp het ook onlangs 'n toerisme kantoor gevestig wat talle interessante inligting oor die dorp en omliggende area het. As jy 'n dag langer kan bly, is 'n besoek aan die Tussen-die-Riviere Natuurreservaat die moeite werd.
Vandaar is dit terug na Gariep Dam met die R701. Met hierdie pad ry jy al langs die Vrystaat oewer van die meer wat van die mooiste uitsigte op die uitgestrekte waters van die meer het. Dit is veral hier waar jy groot gedeeltes van Rudi's Baai, Albatros Eiland, Aerodrome Bay en die bekende bakens van Christmas Eiland en Sonop Eiland sien. By van die uitkykpunte op die pad, sien jy ook die galoppende kuddes bergkwaggas in die Gariep Natuurreservaat.
Terug op die dorp Gariep Dam, is jy betyds genoeg om op 'n sonsondergangvaart op die meer te gaan en een van die eilande of baaie te besoek wat jou laat dink dat jy op besoek is aan 'n eksotiese wêrelddeel. En dit, terwyl jy nog steeds in die sentrale streek van Suid-Afrika is.
|